Nov 29, 2010

piekels en sauerkraut

Hierdie is 'n verhaal van vier piekels.  Soos alle goeie verhale is daar elemente van hartseer, en van geluk.  Die hartseer elemente eindig in die asblik, die gelukkige elemente in die yskas.  Ja, dis 'n swaar lewe die.

My eerste piekeleksperiment was suksesvol.  Ek, my geliefkoosde bossie beet, en 'n groot Consol bottel.  Ek het onfeilbaar gevoel.  Geen groente sou my en my spens vol asyn onderkry nie. 

By die Boeremark het ek 'n kissie vol agurkies raakgeloop.  Tuis het ek my gewend na David Lebovitz se resep vir kosher dill pickles, waar jy in stede van asyn die agurkies staan maak in hul bottel, saam met water wat gekook is totdat die paar eetlepels benodigde growwe sout opgelos het.  Daarby saam voeg jy knoffel, 'n paar speserye (ek het 'n mengsel van koljander, vinkelsaad en carraway gebruik), en bay leaves.  Die vinkel self het ek uitgelos.  Die idee is dat die agurkies fermenteer in die soutwater, oor 'n periode van drie tot ses dae.  Na dag een het my piekels begin skuim.  Teen dag twee het hul sleg begin ruik.  Teen dag drie het ek my huismaat jammer gekry en hul weggegooi. 

My tuisgemaakte sauerkraut het dieselfde pad gevolg.  'n Oorskot kool (dit was voor ek geleer het van die wondere van kool met sambal oelek) het my laat besluit om die proses aan te pak.  Die kool word fyn gesny, besprinkel met heelwat sout, en dan platgedruk met 'n swaar gewig (ek het my baie swaar vanileljesuiker houer gebruik) sodat die kool begin vog afgee wat 'n brine vorm.  Die proses het my Duitse huismaat baie plesier verskaf, om te sien hoe daar elke dag meer en meer vog is wat vorm, maar toe daar teen die einde van die eerste week geproe word aan die kraut was dit so sout ek kon nie meer as 'n teelepeltjie afwurg nie.  Flop.

Vir die gelukkiger deel van die storie het ek maar teruggekeer na my yskas, en my asyn.  Ek het wortellinte gepiekel, na aanleiding van 'n Smitten Kitchen resep, met suiker en mosterdsaadjies en carraway en knoffel, wat na drie dae reg is om te gebruik in jou eie banh-mi.  En daar was die wonderlike rooi ui piekels van die Zuni Café.  Dis 'n uiters moeisame proses, met tonne rooi uieringe wat blansjeer word in die asyn om hul pragtige pienk kleur te behou, maar uiteindelik is die kompleksiteit van die geure al jou moeite werd.  Daar is natuurlik suiker betrokke, en kaneel, en naeltjies.  Ook gedroogde rissies, bay leaves en heelwat swart peperkorrels.  En uiteindelik sit jy met die mooiste piekels wat jy al ooit jou oë opgelê het, dun pienk ringetjies wat blink in jou yskas, en op jou bord.  Na veel pyn en 'n vol asblik I finally got my happily ever after.

5 comments:

wild roses grow said...

Was sommer ook hartseer oor die 'bit of a pickle', maar bly oor die happily ever after met die wortels :)

PS het gister die granizado di limon resep ge-google.. die weskus hitte gaan nie weer die jaar vir ons vang nie!

petro said...

Ek het jou blog onlangs ontdek en het elke liewe stuk gelees. Ek geniet dit. Baie.
Ek was vir lank 'n hopelose kok. Is die jongste van 5 dogters en was omtrent nooit toegelaat in die kombuis nie. Die laaste paar jaar het ek ernstig begin kos maak en geniet dit. Sal seker nooit op jou en Marie(66 sq feet) se vlak wees nie, maar ek sal aanhou kook en aanhou eet.
En aanhou om julle blogs te lees en inspirasie te kry.

arcadia said...

marie-louise: ja, maak dit! dis regtig vreeslik verfrissend. ek dink ons Desember gaan vol wees daarvan. geniet!

petro: hallo! baie welkom. dis altyd wonderlik om nuwe lesers te ontmoet. en kyk, ek sal jou nie eens begin vertel van al die floppe wat ek al aangevang het nie - ons almal werk maar met trial and error ;-)

Marisa said...

Ek gaan nou onmiddelik daai rooi ui piekel resep gaan opspoor. Die pragpienk in my gedagtes gaan my andersins nie uitlos nie.

arcadia said...

Marisa - ek het vergeet om in die post te link na die resep. Ek gaan dit gou regmaak. Maar intussen kan jy inloer by Orangette, by http://orangette.blogspot.com/2006/07/proper-pickle.html , die volle resep is daar.