Oct 30, 2010

orkney

'n Paar jaar gelede het ek vir 'n ruk in Orkney gaan woon om my oupa op te pas terwyl my ouma en ma in Ierland by my tannie gekuier het. Ek sou in daardie twee weke vir ure lank in die troostelose strate van daardie Wes-Transvaalse dorpie rondry. Ek was in die heyday van my groot innerlike konflik oor my identiteit as Afrikaner, besig om Krog en Brink en Giliomee te lees en wanhopig te huil, om gesprekke met my oupa te (probeer) hê oor wat de fok in hul koppe aangegaan het al daardie jare, 'n wrang smaak in my mond. En steeds het ek in die middae die pad gevat en deur die vervalle myndorpie se strate gery, verby die laerskool waar my ma rondgehardloop het in haar atletiekklere, die slaghuis wat agterkwarte adverteer, die mense wat met 'n mikrofoon staan en gospel sing voor die Spar.

Die innerlike konflik rondom my Afrikaneridentiteit het nooit regtig opgehou nie. Na twee motorkapings en die gebeure daarondom het die aard van die konflik dalk net meer kompleks geword, en mettertyd het ek wel besef dat alhoewel ek vir so lank so die moer in was vir alles wat die Afrikaner is het ek ook in sekere aspekte van die kultuur troos gevind.  Soos in die kos. Daar's te veel suiker in, en te veel vet, en hopeloos te veel vleis. Maar daar's iets geweldig comforting daarin om by jou ouma se huis te arriveer na 'n paar ure op die pad en begroet te word met 'n reuse bak hoenderpastei, al weet jy hul het NP gestem hul hele lewe.

Ek en my ma kuier daar vir twee dae, my tannie in Ierland ook aan't huis vir 'n paar dae. Ons eet hoenderpastei, skaapboud en crimplene wortelslaai. Stop die Vrydagoggend by die NG Kerksaal waar ou ooms en tannies in voorskote staan voor vetkoekpotte en jaffelpanne, die helfte van die operasie net toegespits op die rye gasstofies waarop 'n dosyn pannekoeke bak. Ons ry terug huis toe met 'n bierboks vol kopies, nadat ek in die saal voorgestel is aan elke tweede ou tannie, insluitend my ma se kleuterskoolonderwyseres. Die middag spandeer ons op die stoep met 'n sakkie van die slaghuis se biltong, nog nat en met goudgeel vetjies, en praat oor hoe dun my ouma in haar Depressie-jare trourok gelyk het, en oor hoe my tannie se twee klein Iertjies sukkel om Afrikaans te praat.

Net voor ons ry vind ek uit my ouma het steeds twee blikbekers onder die wasbak wat gebêre word vir haar swart werkers om in koffie te drink. En skielik is die wrang smaak terug.


3 comments:

Marie said...

In my jongste dae in Bloemfontein, was daar ook sulke bekers en borde. Dit het verander, maar dit het so begin. Dis moeilik om hardop te se.

Anairam said...

Ag, ek dink ek weet miskien hoe jy voel. Daardie skisofreniese gevoel van die wete wat jou wortels is, maar wat jy ook wil ontken omdat jy nog nooit daarby aanklank gevind het nie. Dis baggage wat jy vir altyd met jou saamdra, glo my. Op 13 het ek al geweet dat ek met 95% van Afrikaner-wese (en -wesens, alas) min in gemeen het. Behalwe die taal. Ag, die mooie, mooie taal. Ek meen, woorde soos wrang en smaad en skottel en katel. Tien jaar later het ek my tas gepak en op die trein Kaapstad toe gevlug - dit was so ver van Pretoria as wat ek op daai stadium kon kom. In Kaapstad was dit so bevrydend - ek kon vir die PFP (Helen Suzmnan et al, want jy is sekerlik te jonk te om te onthou) canvassing doen sonder om by woonstelgeboue uitgevloek te word. EK kon UDF meetings bywoon en vir die Black Sash anties geld gee, en meedoen aan protest marches. Ek kon my van volk en vaderland skei. En nou, baie jare later, weet ek nie eintlik wat en waar ek is en hoort nie, al is my familie al hier vir 15 generasies. (Terloops, die ergste rassiste wat ek nog in my lewe ontmoet het, was surprisingly nie Afrikaans nie. En die beker en borde ding, ek sien dit gebeur nog steeds, en in sogenaamde liberale - as daardie term nog enigsins enige betekenis het - Ingelse huise. Die enigste verskil is dit is nie 'n blikbeker nie, maar 'n Mr Price porselein een. Anyway, na hierdie ellelange relaas, ek dink wat ek is is 'n Reluctant Afrikaner.

arcadia said...

Anairam - Ja, reluctant inderdaad. Ek vind jou reis fassinerend; dit is die Afrikaners van jou generasie that fought the good fight wat my uiteindelik laat besef het dat ek nie my rug kan draai op my wortels nie. Dankie.