Oct 10, 2010

malfatti van spinasie en bokmelk ricotta

En skielik is dit somer. Die strate van Arkadia is een lang pers laning, die Jakarandas in volle blom. Teen sonopkoms is ek by die Boeremark, waar ek uiteindelik wegstap met pragtige pers spring onions, lang stronke soetmielie, 'n sakkie avokados. By die eerste groenteverkoper staan 'n krat vol preie bossies, en ek kies die dunste stele uit. 'n Paar stalletjies later het 'n ander groenteverkoper babapreie uit sy reuse groentetuin, en dit kan ek ook nie laat verbyglip nie. Bossies salie, basilie, kruisement. 'n Reuse bos wilde roket. Ek kry alweer spotgoedkoop aarbeie (wat hierdie seisoen moontlik gemaak het dat ek al 'n aarbeisorbet en 'n aarbei cordial kan maak), en by die vrou van die klein roosplaas koop ek nie net 'n bont bossie rose nie, maar ook 'n aantal klein artisjokke uit haar tuin, hoog opgestapel in 'n mandjie op die tafel.

Die res van die dag is amper onhoudbaar warm, en ek gaan soek boeke by die Hospice, maak 'n draai by 'n groentewinkel waar ek goedkoop makadamianeute en nog billike artisjokke vind, kry 'n pakkie semolina by La Spiga, die Italiaanse deli vol vars brode en vreemde kase. Groenkloof-Oos slaghuis voorsien maalvleis vir 'n burger belustigheid wat iewers hierdie week vervul sal moet word. En in 'n agterste vrieskas vind ek eendbeentjies, perfek vir confit, en toe ek een van die slagters vra of hul nie dalk eendvet ook verkoop nie, stop sy my 'n pakkie reeds confited eend in die hand, verniet, met genoeg vet vir 'n hele paar confiting sessies. Hoeveel vreugde kan vettigheid tog nie in hierdie hart bring nie.

Aandete is uit die River Café Classic Italian Cookbook, malfatti van spinasie en bokmelk ricotta. Die klein balletjies word uiteindelik in semolina gerol en dan gekook, en binne 'n minuut of drie is hul uitgepof, lig en geurig. Intussen het jy 'n pan met 'n paar teelepeltjies botter laat warm word, die botter wat stadig verbruin, 'n hele paar salieblare wat daarin le. Dit word oor die opgeskepte malfatti gedrup, met baie lashings parmesaan. Witwyn en sjokolade vir poeding.

2 comments:

m-l said...

Mis ek nou ons kosnaweke!

arcadia said...

Ek ook! Beste tye ooit.