Oct 5, 2010

granada se tapas, take three

Aangesien Granada ons eerste stop in Spanje was, was ek nog nie gewoond aan J se reaksie op stukke verwerkte vark nie. Die hiperventilering, die glaserige blik in die oë, die eindelose foto's wat geneem word van die blink rye jamón. (Erger nog as die kreef-obsessie en die gepaardgaande kreef photo shoots tydens ons  tyd in Velddrif). Ek was ook nog glad nie gewoond aan die obseniteit van die Katolieke katedrale nie, aan die eindelose ornate versierings en baba engeltjies en goue Marias, en die eerste dag of wat kon ek nie langer as 'n paar minute uithou voor ek moes vlug na skoon wit lyne en die sekulêre straat nie. Die Spaanse naglewe in daardie strate was ook nog 'n nuutjie, met ou ooms en tannies in kisklere wat daarin rondwandel en uiteindelik 'n drankie drink by een van die straatkafees, luid aan die gesels met ander ooms en tannies ook in pakke en stringe pêrels. Maar waaraan ek baie gou gewoond kon raak is die gratis tapas in daai lieflike stad, en die antisipasie van elke aand sit en wag vir wat saam met jou koue biere gaan opdaag op 'n klein wit bordjie. En hierdie keer was dit snytjies brood met 'n donker patee wat tien teen een vark en pimenton van een of ander aard ingehad het, die twee groot Spaanse geure, met 'n sappige groen olyf bo-op elkeen. Daai straatkafee soirees is 'n gewoonte wat ons almal maar kan aanleer.

4 comments:

Marie said...

Klink wonderlik. Ek dink ek weet hoe J oor die varke voel.

jvdh said...

Niemand kan die meriete van vark betwis nie.

Anairam said...

Og, ek wens ons kan die straatkafee-idee hier ter plaatse (in die suburbs) gevestig kry. Veral kafees in jou eie neighbourhood wat snags oop is - hoe lekker! Ek sal my kisklere aantrek en gaan rondwandel.

Jeanne said...

Ons moes mekaar net-net misgeloop het - ons was laas week Dinsdag in Granada! My tweede besoek & dit bly een van my gunsteling plekke op Aarde. Was jully by die Alhambra? En sjoe, die ham... Hemels!