Oct 16, 2010

geroosterde klapperroomys, en aarbeisorbet

Ek het hierdie jaar, vir die eerste keer, 'n somerlys. Sodat ek kan onthou om als te doen wat ek in kouer maande na uitgesien het, om, vir die eerste keer in 'n baie lang tyd 'n seisoen te vier. Die lys sluit in die koop van 'n vintage swembroek, die drink van baie g&t's, 'n besoek aan die erg kommin Tarlton renbaan, en die dra van linte in my hare. Dan is daar ook spesifieke wense rondom die maak van roomys. Daar is min dinge so argetipies someragtig soos roomys, en alhoewel ek ook 'n besondere affiniteit het vir roomys in erg koue weer, is ek ook nie een om met argetipes te stry nie. So ek maak roomys. Sonder 'n roomysmasjien, moet ek byvoeg, wat deel is van my en J se guerilla kombuisfilosofie, wat uiteindelik beteken dat jy jou tyd vir die maak van die roomys mooi moet kies. Aangesien jy dit elke 15min gaan moet roer om die yskristalle te breek wil jy dit nie juis maak net voor slaaptyd nie, behalwe dalk as jy buiten 'n roomyslus ook somnabuliese streke vertoon.

Jare gelede het ek by Sinful in Kampsbaai die mees verruklike geroosterde klapperroomys gehad, en uiteindelik 'n resep van David Lebovitz gevind wat belowend gelyk het. Lebovitz gooi uiteindelik sy geroosterde klapper weg voor hy finaal die roomysvla laat vries, maar volgens my is die tekstuur van klapper 'n groot deel van die appeal daarvan, en ek het dit ingehou. Die eindresultaat was een vir die repertoire, ongelooflik lekker. En my kombuis het die hele res van die dag nog soos geroosterde klapper geruik. Fantasties.

Daar was ook 'n besondere bilikke kopie aarbeitjies van die Boeremark, en 'n resep vir sorbet uit die River Café Classic Italian Cookbook (ja, ek besef maar alte wel hier is ietwat van 'n obsessie aan die broei). Die aarbeie word fyngestamp en toegegooi met suiker, omgeroer vir 'n paar rondtes, en dan gevries. As jy 'n paar uur later jou vrieskas oopmaak het jy 'n bak vol ysige karmosyn.

So, wat is op jou somerlys?

4 comments:

Marisa said...

Mal oor die frase "ysige karmosyn".

Die geroosterde klapperroomys klink hemels - ek stem, mens moet die klapper inhou!

Anairam said...

Og, dit klink alles baie heerlik. Die linte in die hare en die (seersucker?) baaikostuum ook. Op my somerlys is sjampanje (okay, MCC) onder die sambreel op ons patio met 'n uitsig op die see, die dra van wit katoenklere (ek is 'n swart meisie deur en deur, so dit gaan nogal 'n effort wees) en aspersies en aarbeie. Ek ken net my oorle ma se kondensmelkroomys, en dis nogal lekker op so 'n kitsch oudedoos manier. (Maar ek mag dalk iets met die aarbeie probeer.)

jvdh said...

Die linte-swembroek-g&t-Tarlton uitstappie kan baie interessant raak as jy alles gelyk aanvang. Dit gaan 'n paar g&ts neem though.

En 'n klein confession: ek het al meer as een keer eers 3h in die bed gekom omdat ek vir 'n brood moes wag.

arcadia said...

Marisa - Agreed.

Anairam - Daai sjampanje klink fantasties. En druk deur met die wit katoen - there's nothing like it.

J - solank jy my na Tarlton vergesel in 'n vintage speedo en met linte in jou hare het ons 'n deal.