Oct 14, 2010

fusilli con zucchini

Die seisoen is goed vir my. Ek word elke oggend mateloos opgewonde wakker oor al die moontlikhede wat verskuil lê in die oorvloed blosige tamaties, soetmielies en artijokke wat die markte vol is. En gister, o heuglike dag!, het ek die eerste waatlemoene gesien. Daarmee saam dink ek my styl van kosmaak is besig om drasties by die nuwe seisoen aan te pas. Ek wil nie ure in die kombuis spandeer nie, dis net te donders warm. Daarmee saam wil ek niks eet wat swaar is, of nodeloos oortollige elemente bevat nie; hierdie seisoen het ek min energie vir kulinêre kaggelkakkies.

Die River Café Classic Italian Cookbook kom weer tot my redding, en hul fussili con zucchini mag dalk net die dis wees wat my perspektief op zucchini verander het. Die dis se geheim lê daarin om die zucchini dun te sny en lieflik bruin te laat karameliseer in 'n pan met olyfolie, saam 'n goeie dosis knoffel. Intussen kook jy jou pasta, en wanneer die zucchini stukkies goudbruin en geurig lyk tiep jy die pasta in die pan saam met 'n paar eetlepels van die water waarin die pasta gekook het. Rasper soveel pecorino oor soos jy kan afstaan, en eet terwyl jy lysies maak van wat om te kook met die groentewinkel in jou yskas.

2 comments:

Jeanne said...

Ek doen iets baie soortgelyks, maar gooi ook 'n paar stukkies pancetta by die zucchini - hemels. My Italiaanse skoonsuster het my geleer om die pasta kookwater te gebruik vir die "sous" - dis 'n fantastiese tip!

arcadia said...

Dit is inderdaad 'n baie goeie tip, en een wat ek vergeet het om te noem. Vir iets so taamlik eenvoudig is dit amazing hoe groot verskil dit maak.