Oct 13, 2010

en nog baie jare spaar


Een van die grootste nadele van beide smoorverlief wees en aan verskillende kante van die ewenaar woon is dat verjaardae dikwels nie 'n gedeelde affêre is nie. Maar hierdie jaar, op J se verjaardag, was ons vir die eerste keer in 'n baie lang ruk in dieselfde huis, in dieselfde stad, in dieselde land.

Ek het ontbyt gemaak. Ricotta plaatkoekies met haselneut en suurlemoen, my hande nat van die gerasperde suurlemoenskil. Ons het dit in die kombuis sit en eet, met groot potte tee, tot vroegmiddag.

'n Piekniekmandjie gepak en gestap deur die dorp, verby verlate pillboxes uit die Tweede Wêreldoorlog. 'n Park gevind, besef ons het 'n kombers vergeet, en uiteindelik al die kos direk op die gras uitgepak. Daar was 'n verjaardagbrood wat ons die oggend gebak het, 'n reuse stuk verouderde cheddar, en 'n goedkoop bottel witwyn (dis Engeland, ons kan net goedkoop wyn bekostig). Daar was ook 'n bokmelkkasie, 'n songedroogde tamatietapenade, en 'n paar snytjies saucisson en parma ham. En 'n hele grasperk wit blommetjies.

Die middag het ek koek gebak. 'n Franse jogurtkoek, met 'n bakkie aarbeie in die deeg gedompel net voor dit oond toe is.

28 brandende kersies.

3 comments:

Jeanne said...

Veels geluk inderdaad! En mag julle nog baie verjaarsdae aan die SELFDE kant van die ewenaar deel...

Marie said...

Dis hengse Engelse blommetjies. The proverbial daisy lawn. Wat 'n mooi dag, en storie, ook. Baie bly julle kon saam wees.

En 'n asemrowende koek!

arcadia said...

Jeanne en Marie: Baie dankie!