Sep 23, 2010

vendusie vetkoek

Dis Lichtenburg circa 1966. My pa is vyf jaar oud, en by die vendusie saam met sy pa, besig om beeste te koop. Orals loop boere rond, kyk na die vee wat daardie dag opgeveil word, rook pyp. My pa stap na 'n tafel waar lywige boeretannies in wit voorskote staan en vetkoek bak. Duskant hul tafel staan nog tannies voor 'n vuur en braai lang stringe wors, wat sodra dit gaar is in kleiner stukke gesny word en geplaas word in 'n vuurwarm gebotterde vetkoek. My vyf-jarige pa koop twee vetkoeke, een vir hom en een vir sy pa, en hul loop kouend en eet tussen die vendusiekrale deur.

Dis Pretoria, Augustus 2010. Ek is 25 jaar oud, pas terug uit Engeland, waar ek geëet het aan pork pies en rabarber crumbles en gebakte duiwe en gebraaide hase. Maar nou is dit tyd vir vetkoek. Ek staan in my kombuis, met 'n resep wat ek die oggend afgeskryf het by my ma, knie 'n groot bol deeg, wit onder my hande. Dit word verdeel in kleiner bolletjies wat in die son op my boekrak staan en rys, en later gedompel word in 'n groot pot vol olie. Net langsaan is my pannetjie met wors.

Dis goed om tuis te wees.

2 comments:

Marie said...

Mooi. Regtig mooi.

Vir my is dit ons kombuistafel, en Selina wat vetkoek maak, wat ons eet so gou as wat dit uit die olie uitkom, met botter wat drup en Golden Syrup.

Ek mis boerewors.

arcadia said...

Die twee maande wat ek in Europa was nou het ek boerewors verskriklik gemis. Jy kan dalk self probeer maak? Die bitch van die proses is net die stuffing. Ek het nog nie enige tipe wors probeer maak nie, maar dis daai deel wat my afsit.