Sep 17, 2010

Café de Paris botter

Ek mis Europa. Veral Frankryk. Veral die duur straatrestaurantjies wat ek nooit kan bekostig nie, met stoele op die sypaadjies wat uitkyk op die boulevards, met kerse en vars blomme en stuck-up Franse kelnertjies. En 'n spyskaart vol Franse clichés. Steak en frites, macarons, knoffelrige slakkies.

So in my kombuis in Arkadia braai ek 'n stukkie steak vinnig en vurig met die hele woonstel naderhand vol rook. En maak Café de Paris botter. Eers meng jy kappertjiesaad, salotte, en knoffel. Daarby kom nog Dijon mosterd, Worcestorsous, gerookte paprika. En kruie – pietersielie, dragon (o, dragon!), roosmaryn. 'n Bietjie suurlemoensap, sout en peper. Maak warm sodat al die geure amalgameer, vir so minuut of wat, en vou dan in by saggemaakte botter.

Laat die botter weer hard word, sny 'n stukkie af en sit op die steak pas uit die pan. En wens op 'n naweek in Parys.

Ns: Dit moet dalk genoem word dat Café de Paris botter nie dieselfde is as Café de Paris sous nie, wat ook saam met steak bedien word, en ook by Parisian bistros met mislike kelners. Die sous word volgens gerugte (die oorspronklike resep is 'n aartsgeheim) gemaak met hoenderlewertjies, room, tiemieblomme, Dijon mosterd en botter. Nóg 'n rede om Parys te besoek, sê ek.

4 comments:

Die Kollega said...

Yummy...

Die Kollega said...

Lekker...

Die Kollega said...

Lekker...

arcadia said...

Ek kan sien jy hou baie van botter, vriendin. Ek het jou mooi geleer.