Aug 20, 2010

wintersweke

Die koue hier het pas sy laaste doodsnikke gegee, met twee kerries en 'n groot pot sop. Ek is nuut tot 'n liefde vir kerrie; buiten Thai groen- en rooi kerries en 'n Thai krapkerrie het ek geen ander in my repertoire nie, en tot onlangs nie veel van 'n behoefte gehad om iets daaraan te doen nie. Maar in Engeland het ek en J 'n paar wonderlike maaltye gehad by Kali Mirchi in Southampton, unassuming Indiese restaurantjie 'n paar blokke van waar ons gewoon het. Kormas, skilfer-sag naan-brode deeglik gebotter, spinasiekerrie-en-aartappelkerries en lamsblokkies in vuurwarm souse. Weer tuis kon ek die plek nie uit my kop kry nie. My eie kerries die laaste paar weke was 'n Thai viskerrie en Madras hoenderkerrie, 'n Suid-Indiese weergawe met handevol vars kerrieblare, te danke aan die Boeremark.

Die sop was uit Nigel Slater se Kitchen Diaries, 'n spicy pampoensop (ek het botterskorsie gebruik omdat daar geen pampoen by die mark was nie) met komyn, koljander en kaneel. Opgeslurp met dik snye kitkebrood.

En nou is daar lente in die lug. Ek kan nie wag nie.

1 comments:

Marie said...

Mmmmm. Miskien gaan ek kerrie vir aandete moet maak.