Aug 15, 2010

Winchester en 'n rhubarb crumble



Op my tweede dag in Engeland is ek en J vort na Winchester vir hul boeremark. Die feit dat ek in ' vreemde land is was nog erg surrealisties. Maar die mark was pragtig. Ons het die blye weersiens gevier met die aankoop van ons eerste konyn (reeds geslag, dankie) en twee duiwe (ook geslag, baie dankie), en ek het die mees blosige rabarber gekoop by 'n tafel wat so hoog gepak was daarmee dat ek eintlik nêrens anders heen wou gaan vir die dag nie, ek wou net bly staar vir die eindelose pienk stele. Ons het 'n rogbroodjie gekoop, 'n stukkie cheddar uit 'n kaasboer se hand, 'n vars kop slaai en 'n liter peer cider. Gestap tot by Winchester katedraal, en piekniek gehou.

Die aand het ek die rabarber gebruik in 'n crumble, geurig bakkend in bietjie lemoensap en die saadjies van 'n vanieljepeul.