Apr 19, 2010

kos, in die mooiste kaap

Daar is wit tulpe en 'n bak okkerneute op my eetkamertafel, beide afkomstig van Saterdag se Boeremark. Dis iets om aan vas te hou.

Die laaste paar weke was meestal gekenmerk deur geen belangstelling in kos buiten die mees basiese funksie as voedingsmiddel nie. Wat 'n mens kook word 'n spyskaart van dinge wat sonder enige dink voorberei kan word. Roosterbrood met kaas, en rooibostee. Hoenderdytjies en slaai. Nog roosterbrood, met avokado en biltong. Nog rooibostee.

Maar dis tyd om uit hierdie kulinêre gat te kruip. En daar's niks beter as 'n Kaapse uitstappie om dit te vermag nie.

Die hoeveelheid wonderlike kos wat ek in ses dae in die mooiste Kaap verorber het, maak my uiters gelukkig. Dit het begin by 'n Thai vark en pynappel kerrie voorberei deur my vriendin ML, en geëet in 'n woonstelletjie net duskant Kloofstraat, met genoeg witwyn om die tafel. Ek het die volgende dag agter GM aangeloop terwyl hy sy Secret Restaurant inkopies gedoen het, in 'n waas van lamssnitte, pakkies vars frambose en 'n lang soektog na vars dragon. Die aand het 'n paar van ons my verjaardag (oor net so meer as twee weke) gaan vier by Anatoli, 'n Turkse restaurant in Groenpunt wat al sedert 1985 hul deure oop het. Anatoli is baie pret – 'n goed-ingeligte kelner bring 'n reusagtige skinkbord na die tafel, met omtrent 25 tipes mezze, waarvan jy 'n paar kies. Ons het besluit op 'n fyn hoender, walnut, en rissie patee, dun pastry sigaartjies met feta wat diepgebraai is en warm bedien word, dolmades, met rys, dennepitjies, korente en allerlei speserye, en 'n gebraaide eiervrug, aartappel en tamatie dis. Dit word bedien saam met warm flatbreads wat op die tafel kom sny word. Dan neem die kelner jou tafel om na die hoofgeregte te gaan kyk, 'n reeling waaroor ek gaande is – ek sou menige restaurant ondervinings van die verlede kon verbeter as ek vooraf die kos onder oe kon he. (Dit moet dalk ook genoem word dat ek al dikwels gevra het om 'n draai in die kombuis van 'n restaurant te maak sodat ek kan sien hoe hul koeke lyk voor ek dit bestel. Ek vat nie kanse op koek nie.) In alle geval – by Anatoli's word ons toe gekonfronteer met 'n verskeidenheid opsies vir hoofgereg – lamstjoppies met kwepers, lamskenkels met lemoen, gestopte rooirissies en koolblaarpakkies, kebabs van hoender of lam of swaardvis. Ek het uiteindelik besluit op manti. 'n Bord met ravioli pakkies gevul met fyngemaalde lam, met 'n baie stewige dollop Griekse jogurt, met gebraaide stukkies knoffel binne-in, bo-op. Die kos was goed, maar kon werklik uitstekend wees as daar net effe getweak is aan van die disse – minder naeltjies plek-plek, of 'n sterker lemoengeur, of minder knoffel-jogurt wat als oorweldig. Maar ek sal definiteif teruggaan.

Die aand daarna was dit tyd vir GM se Secret Restaurant ete. Die idee van 'n Secret Restaurant is dat gewone mense met day jobs wat vreugde vind in kook vind soms hul huise en eetkamertafels oopstel vir vriende en vriende van vriende om te kom eet, en 'n donasie te los vir hul kos. GM het my voorgespring op die idee, maar het homself uitstekend van sy taak gekwyt. Sy ses gaste het aangesit by sy nuwe eetkamertafel, met propperse wynglase en borde en sopkomme en spierwit lapservette. Daar was vier gange - die eerste 'n tamatie- en basiliesop, bedien met bruschetta, die tweede tuisgemaakte pasta met forel en allerhande eksotiese sampioene. Die hoofgereg het bestaan uit 'n gerolde lamslendestik, gestoomde aspersies, en soetpatat chips. En poeding was orgasmies - donkersjokolade fondant met 'n wit sjokolade en bessie vulsel, bedien met 'n geroosterde peer en mascarpone-konkoksie. Leuk.

In Stellenbosch het ek twee keer roomys gehad van Lecca Il Gelato - die pistachio gelato, en die extra dark chocolate roomys. Daar is ook weer ingeloer by die wonderlike Nook - die eerste keer vir geroosterde klapperbrood (klapperbrood, mense! dis wonderlik!), bedien met 'n hele potjie nutella en 'n hele potjie mascarpone. Die tweede keer het ek 'n toebroodjie gehad met uitsonderlik sagte roast beef snytjies en 'n rooi ui relish, 'n hele klomp roket-blare aan die kant. I love these people. In Kaapstad was ek weer by Hudson's, vir 'n kaasburger, en was weer teleurgesteld oor die feit dat hul burgers nooit medium rare is soos hul spyskaart aandui nie. En het ingeloer by Giovanni's in Groenpunt, vir 'n heerlike sjokolade croissant (ek dink hul dra nog die kroon), en om op te stock op bagels en coppa. En het daar sumac gevind! Vir die eerste keer in Suid-Afrika! (Ja, klein goedjies verskaf my plesier.) Laastens was daar 'n besoek saam met GM en ons vriend N na die Eastern Food Bazaar, 'n absolute aanwins vir die Kaapstadse middestad - 'n klomp stalletjies onderdak, net duskant die stadsaal, met kos wat wissel van Indiese geregte (lamb rogan josh, butter chicken, allerlei tandoori disse), Lebanese schwarmas, nog Indiese geregte (masala dosa, klomp rotis en lassis), Chinese kosse, en 'n effe misplaaste pizza booth.

En nou is ek terug in die saal. (Hoe gebruik mens daardie frase sonder om suggestief te klink?) Ek het immers 'n hele somer van resepte waaroor ek jul nog moet vertel.

4 comments:

Marie said...

Ek het lekker gelees. Dankie.

Anatoli op sy heyday was iets besonders. My vriend Bevan het dit gestig. Jy't my laat verlang.

browniegirl said...

I just discovered this fabulous blog. WOW!! I will have to take some time to read it all. Could you tell me whereabouts in SA you blog from? Thanx, Colleen

KarieS美航嘉雯 said...

期待你的下次更新喔^____^........................................

Jeanne said...

Ek is dol oor Anatoli - ons het seker so 'n jaar na hulle ooopgemaakhet die eerste keer daar geëet & was al baie keer terug. Die plek het definitief staying power!! Vir my is pistachio roomys/gelato die toets om te sien of 'n roomyswinkel hulle storie ken. Die vaagste sweempie amandel-essens en ek kom nooit wer terug nie. Die beste wat ek al ooit geproe het was in Granada in Spanje...