Feb 10, 2010

Café Dijon, Stellenbosch

Dit was 'n moeilike dag in Stellenbosch, die eerste keer wat ons ooit saam op die dorpie is. Ons was moeg, beide taamlik fragiel. Ek het J oorreed om te gaan vir ete by Café Dijon, met 'n koevertjie wat my ouma 'n paar weke vantevore in my hand gestop het met die woorde, “Gaan eet julle tweetjies nou iets lekker, vat vir J op 'n date.”

Die restaurant was so stil op die Sondagmiddag dat ons die enigste tafel was op die vloer van eindelose klein bistro teëltjies. Ons het twee borde kos bestel en gedeel, twee glase witwyn om dit mee af te sluk. 'n Porsie coq au vin, nog bedruip met die rooiwyn jus, met sappige sampioene en 'n absoluut orgasmiese dis van dun lagies aartappel en obsene hoeveelhede botter. Dan ook 'n porsie roasted pork belly, op 'n bed van geurige lensies.

Ons het huis toe gestap in die bloedige Desemberson. Swaar harte, swaar mae.






1 comments:

Marisa said...

Daardie coq au vin lyk lieflik! En wat is nie beter met botter nie? Sal vir Cafe Dijon 'n besoek moet spaar.