Feb 22, 2010

abyssinia, johannesburg

Ek en J vat die pad na Johannesburg, op soek na avontuur. Die eerste stop is Orange Grove, wat eens op 'n tyd 'n trendy Italiaanse enklawe van die stad was, vol sypaadjie restaurante en delis en mense op soek na die beste pannetone. Die laaste paar jaar het die stedelike verval grootliks oorgeneem, en lyk dit baie soos dele van Yeoville of Hillbrow, met China shops en haarsalonne en African butcheries. Al wat nog van die vervloë Orange Grove oorbly is die befaamde Super Sconto, 'n Italiaanse deli-styl supermark, met rakke reuse blikke ingevoerde ansjovisfilette, skywe panforte met kersies en sjokolade, eindelose variasies pasta en olyfolie en geblikte tamatie en bottels olywe, en ons drink uiteindelik koffie in hul kafeteria-styl restaurant, met klein eerste-generasie Suid-Afrikanertjies wat by hul espresso-drinkende Italiaanse ouers se voete
speel.

Van daar af vat ons die pad deur Norwood, die stad se Joodse enklawe, maar dit is Shabbat en meeste van die winkels is toe. Kosher slaghuise, die shul, Dawidsterre in winkelvensters. Ons ry deur Cyrildene, Johannesburg se Chinatown, en kom uiteindelik uit in Kensington. Die hoofstraat is 'n kosmopolitaanse mengelmoes – 'n Indiese restaurant, 'n Chinese supermark, 'n Portugese restaurant, 'n Angolese restaurant, 'n eg-Duitse kroeg met reuse glase bier en vate sauerkraut. Ek en J gaan soek 'n delicatessen waarvan ek gelees het, en stap in by 'n stukkie verlore Italië. 'n Nou winkeltjie met 'n mollige Italiaanse tannie wat nie veel Engels kan praat nie, 'n winkeltoonbank uit die 1940's waarop daar glasvate met gemarineerde olywe en artisjokke staan, hompe pecorino en parmesaan en kase waarvan ek nog nooit gehoor het nie, rolle pancetta en proscuitto, varsgemaakte tortellini. Agter die winkeltjie is 'n klein ietwat donkerder kamertjie waar twee ou ooms in voorskote by 'n tafeltjie sit en koffie drink, 'n brandende kersie tussen hul.

Uiteindelik is dit tyd vir middagete, en ons stap na Abysinia, 'n Ethiopiese restaurant waarvan ek gelees het. Ons gaan versigtig binne, nie seker wat om te verwag nie, en vind ons is die enigste mense in die restaurant. Ons verkyk ons aan die interieur - die tradisionele geweefde tafels., mosebs, en die jaartse en jaartse pienk materiaal wat teen die mure hang, asook helder linte en groot Kersfees baubles. Die dak is 'n mural van geverfde wit wolkies teen die blou lug, en als word afgerond met portrette van Haile Selassie en 'n reuse flatscreen televisie.



Die eienaar oorreed ons om 'n kombinasie van happies van verskillende disse te probeer. Ons vra vir water en hul bring 'n hele glasbeker vol kraanwater en ys (yay ethnic eateries!). Die kos kom op 'n reuse, vlak plastiekskottel, wat uitgevoer is met injera, 'n tipe pannekoek wat gemaak word van tef. Dit is spierwit en het die tekstuur van pap, maar met klein rysgaatjies. Op die injera is vele hopies van verskillende disse. Kekerertjiekerrie, baie sterk komyn-gegeurde hopies gebraaide maalvleis, 'n spiced up tamatie relish, heerlik vetterige gebraaide stukkies bokvleis, gebraaide groenkool, gestoofde aartappel en wortel, beet uit 'n blikkie, gestoofde uie en spinasie, en 'n suurderige krummelkaas wat herinner aan ricotta. Dit was die avontuur waarna ons op soek was. Nie als was ewe lekker nie, maar die smake was kenmerkend, memorable, die geure spicy en skerp.

Ek het in hierdie resensie gelees van die koffie seremonie, maar ons is dit ongelukkig nie aangebied nie. Koffie was daar wel, uiters sterk en bedien in pragtige glasies met outydse silwer lepeltjies. Ek kyk met nuwe oë na Ethiopië.



2 comments:

Marisa said...

Heeeeerlik! Ons het laasjaar ook die good fortune gehad om 'n Etiopiese restaurant te besoek (Addis in Kaapstad) en ek was absoluut mal daaroor. Nou soek ek 'n injera resep!

Bordeaux said...

In LA is daar 'n hele spul Ethiopian restaurante in Little Ethiopia. Briljante kos.