Nov 4, 2009

silwer bruilof

Jare terug, toe my ouers twee arm studente was op Potchefstroom, het hul uiteet sessies bestaan uit Bermuda Treats by die Spur, geroosterde toebroodjies met 'n tuna mayonaise vulsel. Daar was ook die warm appeltertjies wat hul op die sypaadjie buite Turkstra gesit en eet het, en die pasteie wat my pa vir my ma gaan koop het laat in die aand as sy in haar koshuiskamer sit en leer, en die heel pad op sy fiets terug in sy trui warm gehou het vir haar. Op 23 is hul getroud, en ses kinders later het hul 'n paar weke terug hul kwarteeu-huweliksherdeking gevier. Met 'n vyf-gang ete. Elke kind was verantwoordelik vir 'n gang, met die twee kleintjies (ouderdomme agt en tien) wat saam 'n gang gemaak het. En aangesien niemand vooraf geweet het wat die ander gaan maak nie, was dit 'n ete van groot geografiese en geur verskillle. Die kleintjies, E en J, mal oor onderskeidelik Hannah Montana en Randy Orton van WWE, het 'n pre-hors d'oeuvre gang gebied wat bestaan het uit stukkies pynappel wat gedoop is in gesmelte donkersjokolade. Dit is gevolg met my suster M, die 19-jarige kommunis met 'n voorliefde vir Fidel Castro, se gang van salm en tuna maki. Voorgereg is berei deur my broer T en sy vrou D, wat huidiglik 'n trippie deur Afrika beplan op 'n motorfiets. (Let it be noted dat ek geen idee het hoe ons in dieselfde gesin ingebore is nie). Hul het stukkies rump steak op die vuur gebraai en dit afgerond met dun skyfies peer, gekarameliseerde uie en bloukaas. Ek was verantwoordelik vir hoofgereg, en dit het in twee fases gebeur - die eerste was Chicken Veneziana met 'n slaai van roket en baba spinasie. Die hoender word vir 'n paar dae marineer in 'n kombinasie van witwyn, uiters baie knoffel, vars origanum, groen olywe en droƫ dadels, en dan gebak terwyl die hele huis na knoffel ruik. Fase twee was weereens in the wake van my ete by Cafe Dijon, en was filet met frites en bearnaise. Die gevolg was dat ek dalk 'n bearnaise-obsessie by die res van my gesin ook ontketen het. Poeding was die verantwoordelikheid van my 16-jarige broer D, die atleet met 'n voorliefde vir Johny Cash, en was sjokolade roomys met vars aarbeie. Daar was 'n kaasgang ook, maar teen die tyd was dit 'n haas onbesonne taak om nog enige iets te eet.

Vir hul goue bruilof sal ons 'n dag-lange smulpaap viering van 'n gang elke halfuur moet bewimpel.

4 comments:

Marie said...

Jeepers.

Wonderlike storie. So baie kinders, so baie kos, hoender EN steak en bearnaise??? Is dit 'n hele hoender, stukkies, wat?

jvdh said...

Ek's mal oor hoeveel jy weet van hulle studentegewoontes.

arcadia said...

marie: haha, ek besef nou hoe obseen baie als moes klink. elkeen het 'n klein hoenderdytjie gekry, en 'n klein skyfie filet. so dit was darem nie so vreesaanjaend baie nie...

jvdh: my ouers love om daai stories te vertel.

Jeanne said...

Bermuda Treats!! Ek onthou hulle nog goed... en daai uieringe. En die pink sous!! So much for my pretensions of being a gourmet ;-) Dit klink soos 'n uitmuntende idee vir 'n huweliksherdenking en ek is dol oor die diverse versameling kosse.