Nov 23, 2009

pavlova

Ek is bietjie van 'n opgaarder wanneer dit kom by random stukkies bestandele wat nie opgebruik word nie - dit eindig als op in my vrieskas, wat 'n klein spens is vol sakkies sade, neute, droë vrugte, vanieljepeule, brooddeeg, pastrydeeg, vars gemmer en rissie, en oorskiet kekerertjies. En eierwitte. Donders baie eierwitte. Na die groot hoeveelhede crème pattiserie van vroeër die jaar kon ek dit nie oor my hart kry om die amper 21 eierwitte in my besit weg te gooi nie, en het dit als in die vrieskas opgeëindig. En dan, liewe lesers, moet 'n mens uiteindelik net swig voor die vanselfsprekende - dis tyd vir pavlova. En as jy so baie eierwit beskikbaar het soos ek, sommer twee. Die eerste bak ek vir die ander departement waarby ek ook betrokke is se lektore, gebruik Nigella Lawson se wedding pavlova uit die wonderlike Feast. Maar met 'n twist - by die Boeremark vind ek 'n pragtige pakkie rabarber, rooster dit volgens Rose Bakery se resep met lemoensap en vanieljesuiker. Die pavlova word uiteindelik versier met effens versoete slagroom en die rosige, joyous stukkies soet en suur rabarber.

Nommer twee bak ek 'n paar dae later, vir 'n dinner party. Weer 'n Nigella original, maar hierdie keer uit Forever Summer, en 'n sjokolade variant. Daar word 'n stewige dosis kakao by die meringuemengsel ingemeng, en uiteindelik word die pavlova versier met nog styfgeklopte room (jul het geen idee hoeveel room het die laaste paar dae oor hierdie drumpel gereis nie), 'n sakkie vol blosige Boeremark-kersies, en 'n goeie hoeveelheid fyngerasperde 60% donkersjokolade wat infuse is met balsamiese asyn.

En daar is steeds omtrent ses eierwitte in 'n plastiekbakkie in my yskas. Iewers gaan ek moet besef die heelal druk my dalk in die rigting van die macaron.

2 comments:

Marie said...

Klink heerlik.

Dis tyd for consomme...

Marisa said...

Sjoe... ek weet nie watter een van die twee weergawes die lekkerste klink nie.

Ja, ek is 'n volslae chocolate addict, maar het onlangs rhubarb ontdek en oorweeg nogals 'n ligte fling.