Nov 24, 2009

lekkerste hoender

Daar's geen hoop om dit weg te steek nie - ek het 'n goeie klap kommin Afrikanerkos weg. Ek gooi bruinuiesop in my witsous, ek is mal oor soetmosterd, en ek trek nie my neus op vir die Wenresepte-boeke nie. Jare terug het Mariette Crawford in Rooi Rose die term crimplene kos gecoin, om te verwys na al ons trashy Afrikaner favourites - yskastert en gestolde slaaie, daai soutkoek met die marmite en kaas bo-op, poedings wat bestaan uit kitspoeding wat met ideal melk gemeng word. En soveel so as wat 'n mens se gesondheid nie vreeslik baie crimplene* kos hanteer nie, en 'n mens nie anders kan as om grappies te maak daaroor nie - "Hul wil hê ek moet fokken Maizina in die ding gooi? Maizina? Is jy seker?" bly dit gewild vir 'n rede. Dis lekker. So seker is ons van die feit dat dit lekker is, dat ons sommer die woord in die resepte gebruik. Soos hierdie gem uit Wenresepte, wat ook gepubliseer is in die Landbouweekblad (eerste Landbouweekblad-resep van my lewe, yay!) - Lekkerste Hoender.

Jare terug, toe ons nog op 'n dorpie met 'n plaaslike slagter gewoon het, het die slagter en sy gesin ons soms oorgenooi vir ete. Of meer spesifiek - vir 'n braai. En liewe donner lesers, wat op aarde kan beter wees as 'n braai aan die huis van 'n slagter? Elke moontlike ding wat 'n mens ooit kan braai, van tjoppies en boerewors tot daardie hoendervlerkies op 'n stokkie, varksusters, dun skaapworsies, kaaswors, skilpadjies, steak, vark rashers. Ek kan nie onthou wat ons daarmee saam geëet het nie; daar is 'n vae herinnering aan 'n knoffelbrood iewers, maar die hoofsaak was, per slot van sake, die vleis. In alle geval - wanneer dit uiteindelik tyd was vir my ouers om die slagter en gesin terug te nooi, was my ma radeloos oor wat om te maak. Hoe top mens 'n braai met vyftien verskillende soorte vleisprodukte? En dis toe wat sy onthou van Lekkerste Hoender. 'n Helse klomp hoender word ingevryf met paprika, mosterdpoeier, en sout en peper. And then my dears, it's all downhill from there. Maak 'n sous van baie mayonaise, Griekse jogurt, 'n paar eetlepels tamatiesous, worcestorsous en bruinsuiker. En gooi omtrent twaalf heel huisies knoffel in. Gooi oor die hoender, en bak. Hierdie is crimplene kos van die ergste graad, maar dit is 'n major crowd pleaser. Wat nie net bewys is deur die moans aan tafel daardie aand met die slagter en sy kroos nie, maar weer tydens 'n ete verlede week**, waar die gaste die sous van die hoender met hul snye vars brood opgemop het, tot die laaste smeersel in die pan. En het ek genoem hier's geweldig baie knoffel in? What's not to love?

* Hierdie foto verskaf my ook baie plesier.
**J, daar is 'n rede dat ek jou nie vertel het watse tipe hoender ek gemaak het nou die aand nie; ek was bang jy klim dalk nie op die vliegtuig nie.

5 comments:

Marisa said...

Ooeee ja pragfoto van super stylvolle mans. ;-)

Maar ek moet se, ek het nogal 'n sagte plekkie vir daai marmite/kaas koek affere. Vir stolslaaie egter het ek geen geduld nie.

jvdh said...

A - so jy bak basies 'n hoender in mayo?

M - stolslaaie is 'n euwel. Veral mostertringe.

arcadia said...

M: ook nie 'n fan van gestolde slaaie nie (ek is lugtig vir gelatine), maar ja, ek is ook al gevang met 'n stukkie marmite en kaaskoek in die hand.

J: mayonaise en Griekse jogurt en tamatiesous en worcestersous...

Marie said...

Just what the doctor ordered. Dankie. Kak dag hier, voel 'n bietjie beter. Lekkerste Hoender dopamine won't last, but I'll have the memories.

Al ooit die Coca Cola metode getry?

Ja, kaas en marmite op brood! Of koek.

Wanneer vlieg hy of is hy klaar daar??? :-)

Jeanne said...

There is no point in denying our roots... Ek is ook grootgemaak op hoender gebak in 'n mengsel van Liquifruit appelkoos en mayonnaise, en my gunsteling nagereg was so 'n suuremoen affêre gemaak van 'n pakkie suurlemoen jellie en geklopte ideal melk...

Die slagter se braai maak my sommer duiselig van die honger. Skilpadjies - hoe verlang ek nou!