Oct 26, 2009

die pad na pancetta (deel een)

Iewers word ek toe beetgepak met die idee van my eie pancetta maak. Na die ballade van die hangende eend so lieflik uitgewerk het en ek die toleransie van my vegetariese bywoner kon toets het ek besluit om my loopbaan as amateur charcutier te begin. Helaas was dit makliker gesê as gedaan. Die bestandele is oënskynlik 'n eenvoudige lysie, 'n varkmaag (donner, die Afrikaans klink maar bra onaptytlik - pork belly klink veel beter), kosher sout, peperkorrels, juniper berries, curing salt, en nog 'n een en 'n ander. Die groot probleem sou inkom met die curing salt. Nadat ek aanvanklik so naief was om te dink dat ek die sout en sodium nitraat-oplossing sou vind in 'n supermark het ek by 'n paar slaghuise probeer, uiteindelik ook in Orkney by my ouma se slaghuis, waar daar altyd meer met my geflirt word deur die klomp slagters as ooit in enige ander scenario in my lewe. Ongelukkig het dit geen curing salt opgelewer nie. Uiteindelik stuur die slagters my na Freddy Hirsch. Na nog 'n paar dae van probeer uitvind waar hierdie elusive Freddy Hirsch-tak is, word ek uiteindelik op die spoor gesit van 'n winkel net anderkant Capitolpark, in die Moot. Nou moet dit dalk eers genoem word dat 'n trippie na die Moot (soos na Pretoria-Noord) nie net voel soos 'n trippie na 'n ander land toe nie, maar soos 'n trippie na 'n ander tyd. Die Moot is Afrikaans-of-hou-jou-bek-land, en terwyl mens deur die strate ry sien jy 'n groot hoeveelheid tweedehandse motorhandelaars, drankwinkels, pandjieswinkels, en sports bars. Maar is dan daar ook slaghuise, tuisnywerhede en die liewe Freddy Hirsch. Na ek vir 'n uur lank rongery het, besig om in my glory in te verdwaal, vind ek uiteindelik die regte straat, en vind die winkel. Freddy Hirsch is geleë langs 'n seepwinkel (van daai wat die mense self maak, wat jy koop deur jou eie lee 2-liter Coke bottel saam te bring), en pretty much monotoon - rakke op rakke met pakke en pakke verskillende speserye, als in eenderse blink verpakking. Effe onthuts deur die Soviet estetika van die plek vind ek die verkoopsdame, 'n goed versorgde 50-jarige tannie met geblaasde haartjies en 'n neusring, en vra vir die curing salt. "Wat wil jy maak? Eisbein?", vra sy, en ek begin verduidelik van die pancetta, maar sy lyk min geinteresseerd. Sy ruk 'n pak van een die rakke af, en se - "dis wat jy soek." Die pakke curing salt, blyk dit, kom net in pakke van 10kg. En soveel bloody pancetta gaan ek nooit maak nie. Ek verskoon myself beleefd en gaan sus my gemoed by Maders, een van die beste Afrikaner-styl recreational slumming spots in die land. Met 'n ou landsvlag wat wapper en boeremusiek wat speel, is die slaghuis en bakkery Suid-Afrika circa 1973. Maar met die dat dit 'n Vrydag is is die plek vol rye van mense wat biltong en braaivleis koop vir die naweek, en ek ry uiteindelik huis toe. Oppad terug verdwaal ek weer, en met die ry ek verby 'n sad-looking speserywinkeltjie wat ook grootmaat pakke versiersuiker verkoop. En daar, tussen die versiersuiker, vind ek toe my 1kg pakkie curing salt. By die toonbank vra die vrou vir my, "Wil jy eisbein maak?" en hierdie keer laat ek dit gaan, en knik maar gedweë.

3 comments:

Marie said...

Applous.

Jeepers.

Maar juniper, dit verduidelik die soortvan gamey smaak wat my laat smul.

Gisteraans sagte plenat gemaak met pancetta en eiers.

Jeanne said...

"Effe onthuts deur die Soviet estetika van die plek" - donner, jy laat my nou hardop lag!!

Baie beïndruk met die eie pancetta makery - kan nie wag om te sien hoe dit uitdraai nie!

The Electric Orchid Hunter said...

Ag, hoe mis ek nou die scary dele van Snor City. Hoe het jou pancetta toe uitgedraai?