Oct 13, 2009

aardklop spyse

Die laaste keer wat ek en Die Kollega saam by Aardklop was vir 'n paar dae was iewers in die hoërskool, en is gekenmerk deur ons verobering van groot hoeveelhede mini-doughnuts, en Die Kollega wat na een show volstrek besluit het dat sy uit die skool sou gaan in St 9 om 'n groupie te word saam met Akkedis. Akkedis speel lankal nie meer op die fees nie, en beide ek en Die Kollega het uiteindelik ons musician-fase verlaat (dankie tog, liewe vader), maar ons liefde vir mini-doughnuts het gebly. Dus het die kulinêre gedeelte van ons fees begin by 'n polistereenhouertjie* mini-doughnuts, verkoop deur 'n ou oom en tannie vanuit 'n karavaan, met karamel- en sjokoladesousies. Van daar af het ons besluit om die volgende twee dae kos te eet wat aan die volgende vereistes sou voldoen - dit moet lekker lyk, of dit moet iets wees wat tradisionele Afrikanerkos is, sodat ons vir Thabo, Die Kollega se boyfriend wat vir die eerste keer op die fees was, die ware smaak van die volk kon gee. En derdens sou ons onsself begewe in een super disgusting kosserigheid, om ons commitment aan die kulinêre verbreding van die palet aan my lesers te bewys.

Na die mini-doughnuts het ons 'n bottel Sauvignon Blanc gaan drink in die wonderlike Drostdy-hof Wyntuin, en toe begin soek vir middagete. Die eerste middagete was 1) 'n skaapburger van die Gereformeerde Kerk in Orkney se stalletjie, en 2) 'n bord met gebraaide snoek, patats, potbrood en korrelkonfyt van die Beeld-tent. Die skaapburger, wat bestaan uit skaapstukkies wat op die spit gebraai is, saam met tamatie, blaarslaai en 'n braaisousie, was lekker, maar ietwat droog. Die snoek was 'n eerste vir Thabo, maar dit was ook effe teleurstellend (en ja, ja - ek weet ons is nie in die regte provinsie vir snoek nie, but still), bietjie droog, bietjie smaakloos. Die aand het ons weer gedeel. Die eerste was 'n schwarma van 'n Midde-Oosterse stalletjie (en hierdie keer deur iemand raseg Midde-Oosters beman, nie deur een of ander Dopper-kerk in die Wes-Transvaal nie), met laffah wat op die vuur laat pof is en besprinkel is met een of ander gelerige spesery. Toe 'n roosterkoek van 'n stalletjie genaamd Kobus se Gat, met 'n stukkie gerookte kaaswors van 'n ander stalletjie. Die kaaswors was veronderstel om in die kategorie van disgusting elemente te tel, maar was heerlik. Die laaste keer wat ek kaaswors geeet het was op ouderdom sewe, by my eerste en enigste Voortrekkerbraai. Op sewe was ek mal daaroor, en op vier-en-twintig is ek skynbaar steeds. Die roosterkoek was geurig, net jammer vir die aaklige margarien** wat saam met dit bedien is. Aangesien ons steeds honger was is daar 'n aantal sosaties gekoop, en vir my 'n vars Hollandse stroopwafeltjie. Dit was die beste soetdingetjie wat ek op die fees gehad het - klein disks effe groter as my handpalm, wat die hele area om die stalletjie na stroop laat ruik. Die oom in klompe was effe kitsch, maar cute. Die aand, na die laaste show en voor ons die lang pad na ons koshuiskamer aangepak het, was daar weer mini-doughnuts, hierdie keer groter, meer substansieel. Ons was gelukkig.

Die volgende dag het ons die koshuis se ontbyt genuttig ('n kombinasie van No Name-brand bokspap, appels en piesangs, en broodjies met margarien en kaas), en die middag spandeer in die Wyntuin, waar daar nog mini-doughnuts geeet is, ons Thabo voorgestel het aan die wonder van spookasem, en toe begin besluit het wat moet geëet word vir ons voorlaaste maal. Ek en Die Kollega het uiteindelik geswig voor nog 'n roosterkoek met daai super phallic-looking gerookte kaaswors, asook 'n pulled pork sandwich, wat lieflik was. Thabo het hom laat ompraat om die kerrie-afval by Kobus se Gat te probeer, iets wat nie ek of Die Kollega ons monde aan sou sit nie. Ten spyte van die feit dat ons 'n paar keer gaan soek het na 'n properse Dopper poedingtafel, kon ons niks vind nie. En na nog 'n bottel in die Wyntuin word daar toe besluit om maar eerder die mees disgusting ding wat ons op die fees kan vind te kry, en dit te eet. Die contenders was die Pizza Cone, 'n cone met geproseseerde kaas, stukkies ham, pynappel en genoeg preserveermiddels om jou lyk mee te balsem, als in 'n uiters dodgy-looking pizzasous. Dan ook alles wat mens kon eet by een of ander kerk se Lewerkombuis, waar die geur van lewer jou al van ver aanrand. Maar uiteindelik het ons besluit op die fees se nuwe fad, die Wors op 'n Stokkie, 'n vienna wat met 'n degie omvou word, dan gediepbraai word tot goudbruin, voor dit op 'n stok gesteek word om aan die verbygangers te vertoon. Kies daarby 'n sousie van jou keuse, in ons geval, sweet chilli sauce. Hiermee 'n pragfoto van Die Kollega en ons aaklige Wors op 'n Stokkie.


*nee, herwinning is nie groot op hierdie stalletjie se agenda nie.
**myns insiens is alle margarien aaklig

1 comments: