Sep 26, 2009

van trousseaus en klapperbrood

Ek was omtrent vyftien toe ek my trousseau begin bymekaar maak het, met vier klein roomkleurige bakkies wat ek by Game in Mafikeng gekoop het, op die afgemerkte tafel. Daarna het nog 'n klomp special-tafel kopies gevolg, 'n arbitrêre assortment breekgoed wat ek eers baie jare later sou begin gebruik - sushi-borde, 'n stel Nederlandse glasies waarvan daar een boksie op 'n eensame boektafel by 'n vlooimark gestaan het, wit koekbordjies en 'n duur, fancy broodmes. Daar was baie goed wat ek ook uit verskeie oorde geërf het - 'n stel borde van my tannie wat na Ierland immigreer het, 'n stel Turkse teeglasies van 'n vriendin van my ouers, ook oppad landuit, my ouma se ou drukkoker en parfait-glasies, my ander ouma se deftige cut-glass bak. En met die jare het daar nog bygekom - blou glasies wat ek by 'n slaghuis in Gobabis gekoop het, klein wynglasies wat ek en jvdh in 'n stowwerige hoekie van 'n Oosterse Plaza-winkel opgespoor het, 'n duck-egg blue teestel, Heidi-styl bekertjies uit Amsterdam, twee klein Groot Trek-herdenkingsbakkies uit die 1950's, met klein ossewaentjies op, wat my ma op 'n basaar vir R5 opgeraap het.

Maar die grootste plesier wat ek dalk nog geput het uit die versameling, is die dag toe ek die rommelverkoping by die ouetehuis om die hoek hier in Arkadia ontdek het. Een keer 'n maand, om 05h30 die oggend, pak die klomp ou ooms en tannies wat daar woon tafels uit met boeke, klere en kombuisware. Dit is 'n baie jolly affere, met musiek wat speel en mense wat deur al die goed grou. Daar het ek al heelparty wonderlikhede gekoop - 'n groot, pragtige Art Deco-styl stainless steel bak, my geliefde houthef slaplemmes, en dan ook omtrent al die koek-, brood- en oondpannetjies wat ek besit. So is dit toe ook dat ek hierdie week, tussendeur eindelose skripsie-skrywery en beursaansoeke, besig om te probeer besluit hoe die volgende vyf jaar van my lewe moet lyk, een van hierdie ou pannetjies van die rak af haal. 'n Mens kry nie meer pannetjies soos hierdie te koop nie; hul lyk soos die wat 'n mens sien hang in die huise van Jan Smuts of Paul Kruger se kombuise, dik, sterk, stewig. Ek bak daarin 'n klapperbrood, meel, suiker, eiers, bakpoeier, klapper en kaneel, en probeer uitpluis hoe 'n mens 'n potensieel komplekse toekoms vereenvoudig. Dit rys pragtig, die huis ruik na klapper, en ek eet dit warm met 'n goeie veegsel Nutella.

0 comments: