Sep 30, 2009

sonneskyn en chèvre

En so verlaat die laaste twee Stellenboschers die dorp. Dit is 'n taamlik hartseer affêre - ek en EJ het saam grootgeword, ek en gm het ontmoet deels deur EJ en deels deur ons destydse bloggery, en oor die jare was daar vele wonderlike kos tussen die klomp van ons, van Kersfees en Nigella se marshmallow-patatgereg (gm se persoonlike gunsteling), tot verjaarsdae met kersiesop, Bolshevik-partytjies met Zamalek en cassoulet, en 'n paar truly disgusting dumplings gekoop in Cyrildene. Om afskeid van die twee te neem (EJ oppad na Cambridge en gm na Kaapstad) het al die vriende dus vergader in gm se luscious tuin op komberse met glase witwyn, a la Vicky Christina Barcelona. Gm se tapas was fantasties - daar was pasteitjies met verskillende vulsels (spicy tamatie en mozzarella, drie kaas en basilie pesto, en kersie), en 'n verskeidenheid bruschetta, met onder andere basilie pesto en mozzarella, en songedroogde-tamatie pesto met chèvre. Buite is daar teriyaki hoendersosaties gebraai, en 'n filet met roosmaryn wat later in dun repies gesny is en nog lekker rouerig bedien is. Vir poeding het gm se vriendin Delia die aller-fantastiese klomp kolwyntjies daar aangebring - witkoek met 'n wonderlike sjokoladeversiersel, lig en sag en met genoeg donnerse kakao*. Ek het drie gehad, en moes myself keer om nie nog een te steel om huis toe te vat vir die volgende dag nie.

Ek gaan jul uiters baie mis.


*Ek raak eindeloos geïrriteerd met sjokoladekoek of poeding wat nie genoeg kakao in het nie.

0 comments: