Sep 12, 2009

markdag

By die Boeremark is ek, in die woorde van die weergalose Ted Hughes, the me I love and want to live with*. Vanoggend was ek kort na 05h00 daar, die tafels net-net uitgepak, die son nog skugter. Hierdie week is 'n week van groot kook - daar is vriende wat oorkom vir ete môre-aand, Dinsdagaand kook ek en my broers en susters vir my ouers 'n ete om hul huweliksherdenking te vier, en dan is daar my eie kos vir die week. Die uitstappie het dus die volgende opgelewer - filet, hoender vir onderskeidelik za'atar hoender en hoender Veneziana, rooi uie vir rooi ui marmelade, pakkies soetmielies en tamatietjies so groot soos golfballe, avokados en aarbeie. Dan is daar skaaptjoppies wat ek wil gaarmaak met ras-el hanout, melk en room van die melkery, lemoensap. Aartappels, 'n bossie klein geel blommetjies (die naam ontgaan my nou), suurlemoene, maalvleis vir die eerste tuisgemaakte hamburger van die lente, en heelwat vars kruie - tiemie, kruisement, Italiaanse pietersielie en origanum, Laastens 'n beautiful bos salotte, wat ek van agter af 'n bakkie gekoop het, by 'n ou oom met 'n hoed op, nes my oupa gedra het.

Vandag is 'n goeie dag.


*geparafraseer uit Hughes se Remission, in Birthday Letters


naskrif: jul gaan vir die volgende ruk met my alleen opgeskeep wees; jvdh is amper op 'n vlug na Budapest. Lucky bastard.

2 comments:

Marie said...

Kamera.

Maar jou woorde skilder pragtig.

I am a camera?

Ons maak ons eerste herfshamburgers vanaand.

Bordeaux said...

Ah die boeremark! My suster het ons vroeer vanjaar ongoddelik vroeg soontoe gesleep vir ontbyt en vars produkte soek. Was die vroeg op werd.