Sep 29, 2009

la bonne vie

Ek is besig om ietwat van 'n obsessie te ontwikkel met dragon. Na S se heerlike bearnaise-sous by Cafe Dijon het ek myself alleen tuis bevind op 'n Saterdagaand en besluit om self my hand aan die ploeg te slaan. Daar was gewis 'n Franse tema aan die hand; ek het beplan om The Pornographer van Bertrand Bonello te kyk, 'n film wat deel uitmaak van die beweging The New French Extremity, 'n groep films wat onder andere gekenmerk word deur hul aweregse behandeling van seks en geweld (en die verhouding tussen die twee). Een of ander vorm van kulinêre vertroosting sou gewis nodig wees. Vir die bearnaise gebruik ek toe 'n resep uit Elizabeth David se French Provincial cooking, waar jy eers 'n dragon-reduksie maak deur witwyn, dragon-asyn (ek het rooiwyn-asyn gebruik, en ekstra dragon bygevoeg), gekapte salotte, en fyngemaalde peper saam te kook. Ek moes hierdie proses drie keer doen aangesien die mengsel so gou reduseer dat ek die eerste twee kere skielik, voor ek my kon kry, sonder enige vloeistof in die pan gesit het. Toe ek uiteindelik op die derde probeerslag die nodige paar eetlepels vloeistof kon vind, is dit bain-marie-styl geplaas oor 'n pot warm water. Daarby word dan heelwat botter by ingeroer, en uiteindelik die gele van 'n paar eiers, suurlemoensap, en nog dragon. My bearnaise het nie so dik uitgekom soos ek gehoop het nie, maar dit was absoluut die moeite werd. Ek het dit geëet saam met 'n stukkie filet en dun-gesnyde frites, terwyl ek die fliek kyk wat, ten spyte van die titel, toe glad nie so *eksplisiet was nie. En dit het wonderlik afgegaan met die oordosis dragon van die aand.

*Anders as Shortbus, which just proved that you can throw a hell of a lot of sex at the screen and it still won't make it a good film.

2 comments:

Marie said...

Ek moet dit weer se. Dis 'n plesier om jou Afrikaans te lees, omdat ek nooit in Afrikaans gekook het nie.

French Provincial Cooking is die kos waarmee ek grootgeword het :-)

As jy dit ooit NY toe maak, weet ek waar jy moet eet. Dis die perfekte steak, frites and bearnaise, by 'n bistro op Oos 79ndestraat, Quatorze Bis. Ek is jare laas daar, maar nou't jy my lusgemaak. Miskien moet ek dit weer toets.

arcadia said...

Baie dankie :-)

Ek is mal oor daardie boek. En jou restaurantjie klink leuk.