Aug 28, 2009

stapelvoedsel

Ek skryf hierdie post bed-lêend - is die laaste paar dae grieperig (nee, liewe vriende, geen sweempie van vark in die rondte nie), en alhoewel ek nie heeltemal platgetrek is nie voel ek nie juis lus om uit my bed uit op te staan nie. So het ek die laaste paar dae spandeer aan lê en lees deur die hoop leeswerk wat op my wag, nog boeke oor Heidegger, en dan 'n paar tekste van Marshall McLuhan en Jean Baudrillard en bietjie Lyotard, to boot. Om die bed is daar 'n verskeidenheid van koffiebekers met wit of groen of geel vloeistowwe in - Corenza C, vitamien C-drankies, en Medlemon. Daar is ook 'n paar maltabellapap-bakkies wat rondstaan, wat my herinner het aan die opmerking wat 'n rukkie terug gemaak is oor hoe die alledaagse, dikwels vervelige kos wat 'n mens maak nooit oor geblog word nie. Dus, for the sake of culinary transparency, bied ek jul 'n blik op al die stapelvoedsels van die kombuis in Arkadia wat nie soseer eksoties of opwindend is nie, maar wat steeds, veral deur mense so verknog aan roetine soos ek, baie dikwels geëet word.

Dit sou stellig dus die beste wees om by ontbyt te begin aangesien ek die arme maltabellapap klaar so fragrant ontbloot het. In die winter eet ek hoofsaaklik een van twee dinge vir ontbyt - hawermout, of maltabella. Ek het met beide grootgeword en iewers in die hoërskool beide weer verlaat, en die laaste paar jaar my liefde daarvoor herontdek. Ek eet dit nie met vrugte of enige sulke fieterjasies nie ('n paar maande op Fit for Life vroeer in my lewe het my hierdie paranoiïese vrees gegee vir vrugte saam met ander voedselgroepe eet), net 'n bietjie botter, en suiker. Soms, as daar room in die yskas is en ek extravagant voel, mag daar 'n skeppie room in die hawermout gegooi word. In die somer is dit granola, wat ek altyd gekoop het maar nou self maak, en eet saam met melk. Winter of somer, en vyf uit die sewe aande van 'n week, is aandete 'n hoenderslaai. Ten minste vir die afgelope vier jaar. Ek weet nie hoe dit begin het nie, of hoe dit in so obsessie ontaard het nie, maar iewers langs die pad het ek besef dat die slaai, wat ek elke aand presies dieselfde maak, so troostend is dat ek nie omgee dat ek eintlik in 'n groef mag wees nie. Dit bevat altyd dieselfde elemente - 'n verskeidenheid tipes slaaiblare, rou pitjies soetmielie, avokado en dan klein stukkies hoenderdy, wat ek in die oond rooster met sout, peper, droë gemmer en olyfolie. Nog usual suspects wat dikwels opduik is pasta met 'n tamatiesous, met wat ook al in die yskas is daarby - soms is dit stukkies spek, soms stukkies chorizo, ander kere dalk net basilieblare of repies rooirissie. En dan is daar die staatmaker roereiers - taamlik droog, ek is nie 'n fan van nat eier nie (weereens - klink nat eier nie net obseen nie?), met wat ook al in die yskas is. Soms stukkies rooirissie (wat ek die eerste keer so geëet het by jvdh se huis, op 'n reënerige dag toe ek daar opgedaag het met 'n boksie eiers en 'n baguette onder die arm), ander kere bietjie gerasperde pecorino.

Omdat ek dikwels bak is hier dikwels soetgoed in die huis. Maar vir tye wat daar nie baie tyd of lus is om te soek na nuwe resepte nie, en ek iets maak wat net vir my eie plesier is, en die hol tand vul, word een van drie dinge gemaak. Die eerste is Rose Bakery se chocolate chip koekies, waarvan ek die deeg in die yskas hou en dan elke dag twee koekies afsny en bak, sodat ek elke keer warm koekies het uit die oond, met sjokolade wat nog ooze uit die koekie as jy hom middeldeur breek. Die tweede is 'n resep wat my ma uitgedink het toe ek nege was en 'n resep moes bydra tot 'n resepteboekie wat my klas saamgestel het. Die resep staan bekend as die "Tjok-vol kolwyntjie", en bestaan uit 'n wit koekdeeg kolwyntjie wat 'n smeltende sjokoladeblokkie in die middel het. Die deeg kan ook in die yskas gehou word, en dan het jy elke dag, binne twee minute, 'n vars kolwyntjie! Met sjokolade binne-in! Mens hoef nie nege te wees om die wonder van daai creation te besef nie. Laastens, as daar eenvoudig net nie tyd is om iets te bak nie, volstaan ek by blokkies donkersjokolade wat saam met Mariebeskuitjies geëet word, wat ek eers by Nettie Pikeur raakgelees het, en later self op versot geraak het.

Nou is dit tyd vir bekentenisse - ek het jou myne gewys, nou beter jy my joune wys. Wat is jou stapelvoedsel?

4 comments:

Marie said...

Eet jy REGTIG vyf aande uit sewe hoenderslaai? Dis baie, baie interesting.

Ek het gedog ek is erg met 'n roast Cornish hen elke Maandagaand.

jvdh said...

Left to her own devices, yes. As daar ander mense in die huis is, is daar meer verskeidenheid (mits mens bereid is om kos te maak :-).

arcadia said...

marie: jip, ek doen. en dit pla my vreemd genoeg glad nie. ek hou van die roetine.

hmmm - besef ek het twee goed vergeet wat eintlik op die lys moes kom - die eerste is rooibostee en beskuit (die beskuit wat huidiglik in die huis is is verebeskuit, gebak deur my ouma, en growwe beskuit, gebak deur my ma), en die tweede broodrolletjies met stukkies gekerfde nat biltong. heerlik.

arcadia said...

jvdh - moet nou nie maak asof ek nooit kos maak as daar mense is nie! sies vir jou!

;-)