Aug 22, 2009

saterdagaand

Dinge gaan beter, en dan skielik, sonder veel rede, verval dit weer. In hierdie tye word die ure van 'n dag iets wat versigtig bestuur moet word. Afleiding word benodig, afleiding wat dikwels vergestalt word in die sekerheid wat kos maak bring, van dinge wat uitwerk soos beplan. Dus staan die woonstel vandag vol veel meer kos as wat ek kan eet, oondpanne en bakke en borde, en gaan die yskas vanaand vol oorskiet slaap. Hoenderdytjies bedek met fyngestampte knoffel, gemmer, rissie en baie suurlemoensap, en geëet saam met 'n groot bak slaai met vet snye sagte avokado. Later die middag het ek die kop blomkool in die yskas verwerk tot 'n blomkoolsop van Elizabeth David, uit haar French Provincial Food. Die blomkool word sag gestoom, dan fyngestamp, en gekook saam met 'n paar koppies aftreksel. Sout en peper word aangepas, 'n halwe koppie melk bygevoeg, 'n groot klont botter, en uiteindelik vier eiergele. Dit sal iewers aan gaste bedien word. Aandete was 'n vreeslike groot lamskenkel à la Nigel Slater, wat vir ure lank gestoof het in 'n kombinasie van rooiwyn, aftreksel, roosmaryn, knoffel, uie en 'n titseltjie mosterd. Bedien met kapokaartappel, op hierdie solitary Saterdagaand.

0 comments: