Aug 12, 2009

kos vir een

Daar is iets baie koesterend aan vir jouself kos maak; jy hoef jou nie te skik volgens ander se fiemies of voorkeure nie, jy hoef nie heeltyd met 'n plan B te werk ingeval die soufflé plat val of die brood nie rys nie. Jy hoef net jouself te plesier. Verlede jaar het ek na die kaping konstant mense om my gehad wat vir my kos gemaak het en vir wie ek kon kos maak, en dit bly van die beste etes van daardie tyd. Nou is dinge anders, stiller, en is die maak van 'n ete meer van 'n poging tot selfbehoud, van iets eenvoudigs maar beautiful oplewer. So is daar eier noodles met die laaste van die brisket, in 'n satay sous, afgerond met van die swart sesamsade wat ek in Cyrildene gekoop het in Januarie tydens die Chinese nuwe jaar vieringe. Die satay is eenvoudig - grondbootjiebotter, suurlemoensap, sojasous, browning sauce (moehaha), sout, peper, 'n tikkie rissiepoeier. Ek eet dit terwyl ek Gilmore Girls kyk, 'n stil Saterdagmiddag. Dan is daar vanmiddag se ete, pasta met klein garnaaltjies wat in olyfolie gebraai is saam met knoffel. 'n Bietjie witwyn en 'n skeutjie room word bygevoeg, nog suurlemoensap, sout, peper, 'n tikkie droë gemmer en rissiepoeier, iets om na uit te sien na 'n oggend van skryf aan die skripsie. Dinsdag was daar die kosblik wat ek kampus toe moes vat, om tussendeur die tutorklas en die volgende verpligting te hap - vars gebakte volgraanbrood, met klein stukkies van die Pool by die Irene Deli Mark se salami, klein snytjies brie, en dun skyfies avokado.

Dit is goed.

1 comments:

Marie said...

Dis regtig 'n voorreg om (jou) kos in Afrikaans te lees. Ek's seker ek het al vantevore so gecomment...

koesterend
skeutjie
selfs gemmer