Aug 24, 2009

amsterdam

Ek verlang na Amsterdam. Na die kwaliteit van die lig en die roosrankies buite my slaapkamervenster, die stadsklokke en die nintjies. Die winter hier in Arkadia is vaal en despairing, en ek vind troos in die maak van kos wat my aan die ver stad herinner. Die eerste was 'n baksel kroketten. Die beginsel is eenvoudig - neem 'n hoeveelheid oorskiet vleis, maak dit fyn, en meng met 'n dik witsous. Vorm jou kroketten, en plaas in die yskas vir 'n paar uur om fermer te word. Wanneer jy die kroketten wil gaar maak doop jy hul eers in meel, dan in eierwit en rol dan in broodkrummels. Dan raak dinge gevaarlik. Vir die tweede keer in my lewe het ek iets in olie diepgebraai, and darlings, it's never pretty. Om te begin, warm olie maak my vreeslik bang. Ek het visioene van derdegraadse brandwonde en niemand wat my hoor skree op my meel-bestrooide kombuisvloer terwyl ek lĂȘ en wag op my pynlike dood nie. En dan is daar altyd die groot vraag van wat presies jy met die aaklige klomp olie doen as jy klaar gebraai is. Gooi jy dit by die drein af as niemand sien nie? Gooi jy dit in die asblik en hoop dat dit wonder bo wonder nie deur die plastieksak sal lek nie? Hoop maar weer, eternal optimist. In alle geval - met al hierdie diepbraai dilemmas is ek toe so oorstuur dat ek die eerste kroket te lank in die olie los, en dit heel verskroei uitkom. Die volgende paar was meer gelukkig, en, toe ek eers net oor die opwinding kon kom van die kroketten in die kokende olie gooi, was die hele proses eintlik baie pret. Ek het 'n houtbord oorgetrek met 'n stuk koerantpapier, en die kroketten net so saam met 'n botteltjie mosterd genuttig.

'n Paar aande later het ek Belgiese wafels gemaak (Ja ja, ek weet - vir 'n post wat gaan oor Amsterdam is Belgiese wafels close, but no cigar, maar hier gaan dit meer oor assosiasies as enige iets anders. En ek assosieer hierdie wafeltjies met Amsterdam.) Die wafeltjies is heerlik ryk, en yeasty - die deeg word eers aangemaak en dan gelos om te rys, en dan word 'n stewige hoeveelheid sagte botter en strooisuiker by die deegbolletjies ingewerk. Hul rys dan nog 'n rukkkie, en word dan gebak. En vul die huis dan met 'n stroperige, gisserige aroma, wat my herinner aan Prinsengracht en dank je wel.

0 comments: