Jul 25, 2009

oorskiet (deel een)

Aangesien ek 'n punt bereik het waar ek taamlik gatvol is vir die hoeveelheid bits and pieces wat al maande in my yskas en koskaste wag om gebruik te word in iets (en dit somehow net nooit gebeur nie), het ek nou 'n poging begin aanwend om stelselmatig maniere uit te dink om als klaar te gebruik. Die eerste was 'n rooirissie en vier tamaties wat al lank in die yskas lê, hul het uiteindelik 'n tamatie- en rooisrissiesous geword, waarin die laaste van die Oos-Europese ete se frikkadelle (wat intussen gevries is) gedompel is, en bedien saam met die laaste bietjie couscous wat ek nog uit jvdh se spens geerf het voor hy weg is. Vier vlieë met een klap. Dan was daar ook 'n bakkie met toffiesous wat ek verlede jaar Junie gemaak het om te drup oor 'n toring profiteroles wat ek gebak het vir jvdh se verjaardag, en nadat die profiteroles 'n rojale flop was moes ek uiteindelik die sous vries. Daar is in die laaste twee weke twee gebruike daarvoor gevind - die eerste as 'n warm sousie oor plaatkoekies wat ek gebak het toe Mieta kom tee drink. Die tweede is toe die sous gebruik is saam met 'n stuk sjokolade salami, albei ingemeng by sagte vanielje roomys, en weer gevries. Die eindproduk was heerlik, 'n toffierippel roomys met stukkies van die salami, 'n kombinasie van sjokolade, droë vrugte, neute, en drank. Nou lê daar nog 'n klomp random sakkies en bakkies wat iewers gebruike moet vind; als van 'n halwe koppie gevriesde appelliefies tot twee koppies droë kekerertjies, en tien gevriesde eierwitte. Ek word soos my ouma; ek gooi niks weg nie.

3 comments:

Marie said...

Hm, ja...my klein vrieskassie is unnavigable. Dis Saterdag. Dis tyd.

The Electric Orchid Hunter said...

Snaaks, daar is nooit oorskiet in my vrieskas nie. Seker maar omrede ek alles summier opvreet!

jvdh said...

Ek glo steeds die profiteroles moet weer probeer word :-) Maar jou roomys klink leuk.