Feb 25, 2009

die een se dood is die ander se brood

Dis 07h15, en ek het ‘n broodjie wat besig is om in die lou-oond te rys. Een van my kulinêre nuwejaarsvoornemens was om nie meer brood te koop nie maar eerder my eie te bak, iets wat ek tot dusver amper heelhuids reggekry het. Oggende soos die, waar ek in die bad eers besluit dat ek om 10h00 dalk ’n brunch van eier cocotte en broodvingers moet eet om die oggend se skryfwerk te verlig, is die brood wat gebak word altyd my default broodresep, wat geen knie behels nie en binne vier minute aanmekaargeslaan kan word, en selfs heerlik anderkant uitkom as hy slegs een keer gerys het sonder om weer platgeslaan te word. Die resep (wat so doodeenvoudig is ek weet nie eens of mens dit waarlik een kan noem nie – vier koppies meel, ’n eetlepel suiker en ’n eetlepel sout, een pakkie gis en louwarm water) is afkomstig uit my jonger dae, toe ’n heer uit Brits my die hof gemaak. Die man het altyd letterlik met ’n witbrood onder die arm by ons huis aangekom, een wat sy ma gebak het. Sadly was ek meer opgewonde oor die brood as oor die man.

Ek het die man na ’n ruk uiteindelik huis toe gestuur, maar die resep behou. Ek was nog nie spyt nie.

Ns: Ek moet bieg dat ek steeds dink dis pretty fabulous as ’n man met ’n varsgebakte brood by jou voordeur opdaag.
Ja gm, dalk is my hofmaak-idees wel gesetel in die 50’s.

1 comments:

gm said...

I calls it as I sees it. :)