Dec 10, 2008

arcadia se heerlikhede van 2008 (deel 2)

Soms is dit die onbeplande etes of happies wat die mees memorable is. Soos die plaatkoekies wat oorgebly het nadat my pa ingeloer het vir laatmiddag tee, en wat ek en jvdh en Die Kollega daai aand in die kombuis verorber het saam met die sagte bokmelkkaas wat gekoop is by die Engelsman wat sy Franse kase drie keer Boeremark toe gebring het en toe miserieus verdwyn het, tot ons groot ontsteltenis. Of die brie, wyn en granate op my verjaardag, of die heerlike vars broodrolletjies wat een Sondag by die Nederlandse winkel in Harbeespoortdam, Jasmyn, gekoop is en uiteindelik saam met ‘n stukkie kaas van Van Galen se kaasplaas geëet is op die gras langs ‘n stroom.

Wat kookboeke betref was hierdie gewis die jaar van Nigel Slater, en spesifiek Real Food. Behalwe vir die pasta met chorizo, room en wholegrain mosterd wat 'n Vrydagaand-gunsteling geword het was daar ook die fantastiese kapokaartappelpastei met sampioene en kaas, en Nigel se coq au vin – hoender, witwyn, sampioene en room, saamgekook en voorgesit op ’n koue Sondagmiddag. Maar wat uiteindelik almal se harte gesteel het, en Nigel vir eens en altyd die patron saint van my kombuis gemaak het, was sy knoffelbrood. Dalk wys dit sekere van die Voerders se plattelandse wortels, maar hierdie brood is die brood van geluk – baie botter, baie knoffel, baie kruie, en heelwat kaas. Fan-fokken-tasties.


Beste ete van die somer
was ‘n dis wat ek en die Kollega die eerste keer geëet het nadat die Hairy Bikers dit by die Good Food and Wine show gemaak het en ons ná hul demonstrasie die verhoog bestorm het om ’n happie te kry voor die ou mense in die voorste rye (wat soos ruspes toesak op die borde kos) als opeet. Die vis met ’n kors van chorizo, parmesaan, knoffel, flatleaf parsley en bietjie broodkrummels is toe gemaak vir my verjaarsdag, groot oondpanne vol aanmekaargeslaan deur die verjaardaggaste almal besig in my klein kombuisie. Wat ook spesiale vermelding verdien is die tuisgemaakte pina coladas wat gedrink is by die Uniegeboupiekniek (hoofsaaklik omdat ons nie ’n piekniek kon voorstel sonder drank nie, en bang was die sekuriteitswagte konfiskeer enige drank wat nie versteek is in iets anders nie.)

Die winter se beste disse sluit in die goulash wat jvdh vir my kom maak het terwyl ek nog in my post-hijacking haze was, die kombuis vol paprika walms, die krapkerrie (klappermelk, uie, gemmer, knoffel, borrie, suurlemoen, rissie) waar die krapvleis uit al die nou cavities van die crustacean met fonduevurkies gekrap is en die souserigheid met driehoekies roosterbrood opgeslurp is terwyl ek Night of the Living Dead kyk vir my module oor The Monstrous in film. Die rhubarb crumble vir m-l se afskeidsete, bedien met heerlike tuisgemaakte vanielje vla, het die winter meer draaglik gemaak, asook die kastaiings wat gekoop is by die vreemde Duitse oom by die Boeremark, gerooster in die oond en bedien met dik room.


Een van die trottsste oomblikke van die jaar was die duck l’orange, ‘n spanpoging tydens die eerste kosnaweek, en wat later weer gemaak is ter viering van die einde van my Junie-eksamen, en weer ‚’n ruk later vir my ouma en geniet saam 7de laan, die eerste keer wat duck l’orange stellig in Orkney voorgesit is. So ook die maak van karpatka, ’n Poolse roomkoek waarvoor daar nêrens ’n resep te vinde was nie, en wat uiteindelik opgespoor is deur ’n vriendin van jvdh te kry om ’n Poolse familielid te stalk vir die spesifikasies van hierdie heerlikheid. En dan, ter ere van my puriteinse oomblik, die varsgebakte challah en tuisgemaakte botter, wat ons een hele Sondagoggend besig gehou het, en my vir goed oortuig het dat dit altyd die moeite werd is om dinge van scratch af te maak.


naskrif: alle foto's deur jvdh

2 comments:

Marie said...

Jirre, nou's ek honger. Mooi geskryf...

The Electric Orchid Hunter said...

Die laaste keer wat ek krapkerrie geëet het, het ek en die ander gaste om my 'n reënjas nodig gehad om ons teen die spatsels te beskerm.