Nov 26, 2014

Porto se portgrotte

Ek kon nie in Porto wees en nie gaan port proe nie. Vanuit die stad stap jy oor die Arrábida brug, oor die Douro-rivier, waarop die barges toentertyd die vatte port sou vervoer. Oorkant die Douro lê Vila Nova de Gaia, waar die portkelders, of grotte, soos hul genoem word, geleë is. Die wonderlike deel van die hele uitstappie is dat jy kan stap van portgrot tot portgrot, iets wat wynproe in Stellenbosch byvoorbeeld baie meer aanloklik sou gemaak het, veral vir die bestuurder wat altyd sy wyn moet spoeg in plaas van drink. Wel, dis aanvanklik die wonderlike deel. Totdat jy besef dat jy teen 'n donderse heuwel moet uitklim elke keer wat jy na 'n volgende portgrot wil skuif, en weet jul hoeveel alkohol is daar in port? Red 'n volk. Teen my derde portgrot het ek besluit dit moet nou ook maar my laaste wees, die kombinasie van heuwels en versengende son en meer port op een slag as wat ek al in die hele res van my lewe saam gedrink het, net te erg. Ek het my laaste paar glasies port geneem in 'n koel tuin wat uitkyk oor Porto. Daar was selfs 'n pou. Ek was net Goddank bly ek kon sit, onder 'n boom. (Aangesien hierdie 'n kos blog is moet ek dalk iets sê oor die port self. Disclaimer: Ek is nie 'n port fan nie. Ek verstaan die plesier van die kompleksiteit van goeie port, en die port wat ek in Porto gedrink het was inderdaad besonder kompleks, met wonderlike geurprofiele, maar, helaas – ek het eenvoudig net nie regtig 'n liefde vir soet drank nie. Ek besef dit maak van my 'n slegte Afrikaner, but there you have it. Die port wat ek die meeste geniet het, en wat ek saamgepiekel het na Toronto, was die baie droeë weergawe, wat minder as 'n handvol portgrotte maak, en wat sterk herinner aan die droeë sjerries wat ek en J in Andalusië gedrink het.)

Oppad af met die heuwel, en weer op met die volgende, het ek besluit om die ander Porto-spesialiteit te probeer – die franceshina. Op papier het die toebroodjie, wat bestaan uit brood, ham, mortadella, wors, steak, mozzarella, en 'n vleis- en biersous, nie vreeslik aanloklik geklink nie. En soms moet ek tog net na my aanvanklike gevoel oor 'n ding luister, want waaragtig, dit was 'n haas onmoontlike ding om klaar geëet te kry. Te vetterig, te veel, veral in die hitte van die somer. Ek het uiteindelik 'n kwart van die monstrosity geëet, en die res teruggestuur na die kombuis. Bly maar eerder weg.




Nov 12, 2014

mercado do bolhão, Porto

Vanaf Coimbra het ek vertrek na Porto. Die stad was ook, tot my groot plesier, oortrek met teëltjies. Ek het nog vis geëet, en nog pasteis de nata, en ook nog churrasqueiro, oftewel gebraaide hoender. En nog vinho verde gedrink – my hostal het 'n klein kafeetjie op die onderste vloer gehad, waar die vriendelike man agter die toonbank sommer aanbied om jou bottel wyn vir jou oop te maak as jy betaal.

Die voorlaaste dag in die land het ek gaan soek na die mark. Soos in Lissabon is die Porto mark minder van 'n toeriste-aantreklikheid as wat 'n mens byvoorbeeld in Barcelona sou vind – meeste van die besoekers is daar om hul weeklikse (of daaglikse) kruideniers aan te skaf. Ek het 'n paar dinge opmerklik gevind. Hoe interessant die stalletjies van binne vertoon het, dikwels met prente van heiliges of sokkerspanne. Hoe oud heelwat van die tannies is wat steeds heeldag op hul voete spandeer, en flink te werk gaan asof hul dit al hul hele lewe lank doen, wat moontlik die geval is. Die groot liefde vir plastiekblomme, waarvan daar stalletjies vol te koop is. Die feit dat elke slagter 'n koutjie met 'n voëltjie buite sy winkel het, dikwels met die naam van 'n sokkerspan op die kou self. Stalletjies met net lewendige diere – jy neem self jou hoender of haas huis toe vir slagdag.















Oct 22, 2014

dinner party met die professore

'n Flashback na die somer. Ons het drie van my professore oorgenooi vir ete, vir die eerste keer. Dit het ons gedwing om die huis skoon te maak (soms dink ek dis een van die hoofredes hoekom ek heeltyd mense oornooi, dit dwing my om die huis in orde te kry), en om 'n indrukwekkende spyskaart aanmekaar te slaan. Ons het besluit om dit 'n greatest hits of the summer-ete te maak. So lyk dit toe:

Parmesaan pudding met bruschetta, aspersies, en prosciutto

Geroosterde en gemarineerde zucchini met basilie
Boerbone met feta en kruisement
Focaccia met swartdruiwe en vinkelsaad
Tomatoes a la crème
Nektarien, basilie en rooi-uislaai
Vinkel- en granaatslaai
Mititei, bedien met tzatziki en sumac

Karpatka

Ek het ongelukkig geen foto's, buiten die van die foccacia nie – ons was te besig om skoon te maak. Die gaste is laaaat eers weg.



Oct 17, 2014

vlierblomstroop met sodawater

Ons drink nog van die somer se vlierblomstroop, self gemaak hierdie keer. J post binnekort die proses.